Ons Eerstespan (1ste XV) het die afgelope naweek vir die eerste keer in die geskiedenis die Kovsiebeker na Kimberley gebring, nadat ons Hoërskool Witteberg met 45–42 op Shimla Park in Bloemfontein geklop het.

Hierdie hoogtepunt merk die afsluiting van die 2025-seisoen – en wát ’n seisoen was dit nie! Diamantveld is gekroon as die beste rugbyskool in die Wesgrow-liga, waarin agt skole meeding. Ons het ook ’n uitstekende ABSA Wildeklawer-toernooi beleef waar ons o/14-span ’n geskiedkundige oorwinning behaal het teen Hoërskool Waterkloof. Daarby het al ons spanne geseëvier teen Maritzburg College, een van die voorste rugbyskole in die land.

Ons o/16A-span het tydens die Jean de Villiers-fees in die Paarl ’n oorwinning oor Hoërskool Menlopark behaal, terwyl ons o/14A-span tydens die Kwaggaweek in George vir Boland Landbou geklop het.

Die Eerstespan het ook ’n sterk vertoning gelewer tydens die Noord-Suid-toernooi by Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch, waar hulle Hoërskool Framesby gewen het, maar ongelukkig teen Hoërskool Rustenburg vasgeval het. Nietemin het ons Eerstespan vanjaar 16 van hul 20 wedstryde gewen – ’n merkwaardige prestasie!

Baie dankie aan elke afrigter, spanbestuurder en ouer wat bygedra het om 2025 ’n besondere jaar in Diamantveld se rugbygeskiedenis te maak.

#trotsdiamantveld