
Welkom vanaf die Hoof
In ‘n snel veranderende wêreld is dit noodsaaklik dat Diamantveld steeds vernuwend sal optree sonder om gevestigde waardesisteme oorboord te gooi. ‘n Balans in opvoeding moet dus gevind word met tradisie en waardes en die opvoedende krag van die kerk en huisgesin, aan die een kant en liberalisme en ‘n ontploffing van tegnologie aan die ander kant, om ‘n goed toegeruste jongmens die lewe in te stuur.
‘n Skool se status word nie bepaal deur wat op borde by die skool staan nie, maar deur wat in die harte van die kinders en personeel omgaan, daarom wil ons kinders en onderwysers hê wat met selfrespek en respek vir mekaar, optree.
Ons het die Here se seën op vele terreine in ons strewe om te bly groei na uitnemendheid, ervaar.
In ons strewe na gehalte onderrig en opvoeding aan al ons leerders, maak ons staat op die ondersteuning en samewerking van al ons ouers en die gemeenskap as ‘n geheel. Dankie aan u elkeen vir u mooi gesindheid, samewerking, hulp en voorbidding gedurende 2022.
Van nuwe leerkragte, leerders en ouers wat in 2023 by ons aansluit verwag ons dat jy by DHS meer sal gee as wat jy gaan ontvang, nie om te vra wat ek daaruit kan kry nie, NEE vra liewer wat ek daartoe kan bydra, kom na ons om die mooi dinge van ons skool en kinders soos integriteit, trots, goeie maniere, lojaliteit deel van jouself te maak en dat jy reeds daardeur die wêreld rondom jou sal verstom, dat jy sal opstaan en wys wat jy doen en nie doen nie, wat jy sal toelaat en nie toelaat nie, wat jy sê of nie sê nie. Dit is ons strewe vir onderwyser, ouer en leerder.