
Op 28 Januarie 1935 kom daar in Kimberley ‘n skool tot stand om vir Afrikaanssprekende leerders ‘n tuiste te bied waar hul onbeskaamd hul kultuur kan uitleef en akademies onderrig, geskoei op ‘n Christelike karakter en etos, in hul moedertaal kan ontvang.
Die nuwe hoërskool het geopen met 51 leerlinge in st. 7 en st. 8 en vier personeellede. Gedurende die eerste jaar van sy bestaan was die skool bekend as die Afrikaansmedium Hoërskool van Kimberley. Die volgende jaar is die naam verander na Diamantveld-Hoërskool, ‘n streeknaam, en nie die verheerliking van een of ander persoon nie. Die skool het vir baie jare as Diamantveld-Hoërskool (DHS) bekend gestaan, maar die naam is later na die taalkundig korrekte skryfvorm, Hoërskool Diamantveld, verander.

Teen 1970 groei die leerdertal tot nagenoeg 600 leerlinge en in 2022, 87 jaar na die stigting, spog Diamantveld met 781 leerders en 34 onderwysers. Van ‘n eenvoudige begin het Hoërskool Diamantveld in een van die toonaagewendste hoërskole in die ou Kaapprovinsie en huidige Noord-Kaap ontwikkel wat op elke gebied, hetsy sport, akademie of kultureel, ‘n belangrike bydrae lewer. Die talle oud-skoliere wat betekenisvolle bydraes in samelewings regoor die wêreld lewer, is lewende getuies van die skool se leuse: A POSSE AD ESSE. Van ‘n Moontlikheid tot ‘n Werklikheid.