Diamantveld het weer vanjaar die immer gewilde swemgala aangebied. Dit bied nie net aan die swemmers van formaat 'n geleentheid om hul vermoëns ten toon te stel nie, maar is ook 'n prettige geleentheid waaraan selfs die skoolhoof ''gewillig'' deelneem. Die matrieks se ''kostuum-seremonie'' verleen jaarliks besondere kleur aan hierdie geleentheid.

Milize Symington is tans Diamantveld se voorste swemmer. Sy het vroeër vanjaar drie goue en een silwer medalje by die SA Skole-kampioenskapsbyeenkoms in Durban gewen. Sy hou ook provinsiale rekords in rug- en vlinderslag en sy is by die jaarlikse prysuitdeling met trofees vir die beste senior swemmer en die beste o/15 dogter beloon.

Alhoewel Diamantveld moontlik nie allerweë as 'n ''swemskool'' bekend staan nie, lewer ons reeds dekades lank individuele uitblinkers op wat bevestig dat elke gebalanseerde leerder in 'n veilige, stimulerende omgewing sy beste potensiaal kan bereik.

Karen Muïr was Diamantveld se eerste Springbok swemmer en is steeds 'n toonbeeld van ons potensiaal in die swembad.