Redenaars

DHS-Redenaars strewe daarna om leerders te help om met selfvertroue in die openbaar te praat, om hulle man (of vrou!) te staan in ‘n wêreld waar daar so dikwels van ons verwag word om ons standpunt te verdedig, of iemand anders te oortuig van ons standpunt. Redenaars is toegewyde leerders wat nog lank na skool die vrugte van hierdie dissipline pluk.


 Van die interessante brokkies uit Diamantveld se redenaars se geskiedenis is o.a.:

In 1973 het die redenaars- en vasvraspan uit 7 lede bestaan. Hulle het aan die Nasionale Raad vir Padveiligheid, die Junior Rapportryers en die  A.T.K.B. (Poskantoor) se kompetisies deelgeneem. Drie van dié leerders het na die Junior Rapportryers se eindronde deurgedring.

In 1975 dring twee van Diamantveld se redenaars deur na die semi-finaal van die Junior Rapportryers kompetisie. In die jaarblad word redenaars beskryf as ‘n “veeleisende, maar besonder opbouende en vormende kultuuraktiwiteit…”.
In 1976 word Dalene Steyn as die beste redenaar tydens die SABRA-kongres aangewys.

Intussen het tye verander, asook kompetisies se name:

  • In 2005 dring DHS deur na die halfeindronde van die ATKV-Redenaarskompetisie.
  • In 2006 is DHS tweede in die halfeindronde in die junior en senior afdeling.
  • In 2007 wen DHS die halfeindronde en dring deur na die finaal.
  • In 2008 dring DHS deur na die halfeindronde.

DUS: Ons leerders presteer deurlopend en hou Diamantveld se naam hoog op redenaarsgebied!

In 2009 mag DHS 9 leerders (5 senior en 4 junior) vir die ATKV-Redenaarskompetisie ingeskryf het (volgens ‘n vaste formule wat die ATKV gebruik t.o.v. die hoeveelheid leerders in die skool). Van hierdie 9 het 5 deurgedring na die halfeindronde wat in Kakamas gehou is.

2010 se span het in Maart teen Hugenote Hoërskool deelgeneem, en daarna aan die ATKV se eerste uitdunrondes wat op 16 April plaasgevind het. Na die eerste ronde het 6 van die 9 deelnemers deurgedring na die half-eindronde wat op 17Julie plaasgevind het.

In 2011 het 8 leerders (5 seniors en 3 juniors) aan die Redenaarskompetisie deelgeneem. Drie het na die halfeindrondte deurgedring. Dit was: Anton O'Reilly (gr. 11), Philip-John Badenhorst (gr. 9) en Liandri van Zyl (gr. 8).

Debat

Die bemeestering van die kuns om waterdigte argumente te formuleer, gapings in die opponente se redevoering te identifiseer en flink op jou voete te dink, is vaardighede wat van onskatbare waarde is vir die vorming van elke jongmens se intellek.  By Hoërskool Diamantveld word leerders aangemoedig om hulle talente in hierdie opsig te ontwikkel en daarom word hulle die geleentheid gebied om jaarliks aan die Nasionale ATKV-debatskompetisie deel te neem. 
Reeds vanaf die beginjare van debat by Diamantveld, word interdebatte gehou.  Die eerste interdebat is reeds in 1938 teen die Hoër Rooidakskool in Boshof gevoer.

In die sewentigerjare word die Nasionale Junior Rapportryers se debatskompetisie ingestel waaraan Diamantveld jaarliks deelneem.  Byna sonder uitsondering dring Diamantvelders deur tot die halfeindronde en in 1991 en 1997 word daar op nasionale vlak meegeding. In 2006 word die Junior Rapportryers-debatkompetisie vervang deur die ATKV-debatskompetisie en sederdien wys Diamantvelders ook hierin hulle staal. 

In 2006 en 2007 dring DHS deur na die semifinale rondes en in 2009 word ons deelnemers as streekswenners in die Noord-Kaap en Vrystaatstreek aangewys. Hierdie deelnemers dring toe ook deur na die nasionale eindronde.

In 2010 neem drie senior en drie junior spanne aan die ATKV-debatskompetisie deel, waarvan twee junior en twee senior spanne hulle debatte wen.

In 2011 wen ons senior span (Emrie Human en Elizna-Mari Leibbrandt) die halfeindrondte van die ATKV-debatskompetisie en die junior span (Anri Retief, Marlouette Kleynhans en Helené Snyders) verteenwoordig DHS ook in die halfeindrondte.

Ander jaarlikse geleenthede waar Diamantveld se debatspanne wys wat in hulle steek, is by die Volksblad-Jip  Debatkompetisie waar skole informeel aan onvoorbereide debatte deelneem, asook die interskole-debat teen Hugenote Hoërskool.  Dit bied uitstekende geleentheid vir die sprekers om met leerders van ander skole te sosialiseer en die kuns om op jou voete te kan dink te bemeester. 

 

Dink of sink @ DHS