
Die Aitsa het in 1975 ontstaan. Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl is op 14 Augstus 1975 ingewy en as deel van DHS se eie ''taalfeespublikasie'', het die matriekklas en hul ywerige Afrikaanse onderwyseres, mej Marie Jordaan, 'n skoolkoerant aangepak. Dit was aanvanklik 'n klasprojek, maar die saadjie het in vrugbare grond geval en 34 jaar later word die Aitsa aangewys as die beste skoolkoerant in die land.
Tans bestaan die redaksie uit:
'n Redakteur (Anri Ferreira) en
sub-redakteur (Louis Fourie), sowel as 'n
sportredakteur (Magdel van Schalkwyk),
inhoudsredakteur (Hestie van der Schyff) en
bemarkingshoof (Marsy Greyling).
Hierdie vyf vorm die kernredaksie. Hulle termyn strek van Junie 2009
tot Junie 2010. Daar is ook 'n spotprentkunstenaar, 3 fotograwe, 9 lede van die bemarkingspan en ongeveer 15 artikelskrywers.
Leerlinge bied hulself vrywillig aan (en gaan dan deur 'n keuringsproses), of word deur die redakteur en ander lede gewerf. Die kernreaksie word een keer 'n jaar deur die uitgaande kernredaksie verkies.
Mev. Retha Vos is die onderwyser verantwoordelik vir die skoolkoerant.
Verdienstelike artikels, foto's, grafika, spotprente, sowel as die koerant in sy geheel, word jaarliks ingeskryf vir Media 24 se skoolkoerantkompetisie. Die afgelope jaar het die Aitsa uitstekend gevaar.
Die koerant het twee eerste plekke gewen. Die Aitsa was eerste in die afdeling vir skoolkoerante met ‘n begroting onder R10 000 per uitgawe, en ook eerste algeheel vir die beste skoolkoerant in die land. Die skool het ‘n rekenaar en ‘n 4-in-1 drukker as prys vir die eerste plekke gewen. Afgesien van die twee algehele eerste plekke, het vyf van die redaksielede in individuele kategorieë presteer en ook groot pryse vir hulleself losgeslaan.
Dus altesaam tien individuele inskrywings wat deur Diamantveld leerders gewen is, uit ‘n groottotaal van 400 inskrywings.
Daar is gedurende Oktober 2009 'n koerantkursus by DHS aangebied, veral met die oog daarop om nuwelinge touwys te maak. Die kursus is deur twee van die Volksblad se joernaliste, Sobeth Jordaan (koördineerder van die Nasionale Skoolkoerantprojek in die Noord-Kaap en die Vrystaat) en André Botha (oud-Diamantvelder en tans joernalis vir die Volksblad in Upington) aangebied.
Die onderwyseres in beheer probeer deurgaans die leerders lei t.o.v. die skryf van berigte, artikels en resensies, die neem van foto's taalversorging, uitleg, koerant-etiket, ens. Die stiptelike nakoming van spertye en getroue bywoning van vergaderings is baie belangrik.
| Die beste koerant !!! |
|