Op 28 Januarie 1935 het die Afrikaansmedium Hoërskool met dr. J.F. O’Grady as hoof, vier personeellede en 51 leerlinge begin. Die naam is later na Hoërskool Diamantveld verander.
Die skool het tot stand gekom met die hulp en ondersteuning van ‘n paar pioniers wat Afrikaans as taal tot sy reg wou laat kom. Dr. J.R. Albertyn, mnr. F. van Rensburg, mev. Hendricks, die enigste twee Afrikaanse kerke en mnr. Stander, die Afrikaanssprekende inspekteur, het hulle vir die stigting van ‘n Afrikaanse skool in die hartjie van ‘n Engelse stad beywer.
Daar kan dus met reg gesê word dat die stigting van Hoërskool Diamantveld die begin van die vestiging van die Afrikaanse kultuur in Kimberley was.
Die Afrikaansmedium Hoërskool het op die boonste verdieping van die ou koshuis van die oorspronklike Onderwyskollege van Kimberley (Kimberley Teachers' Training College) begin. Die skool is geleidelik vergroot.
Op 23 Februarie 1968 is die nuwe skoolsaal ingewy. Op Stigtersdag, 28 Januarie 2007, is die skoolsaal na wyle dr. S.M. Cerff, die tweede skoolhoof, vernoem. Sedertdien is die oorspronklike skoolsaal, wat deel van die hoofgebou is, op Stigtersdag, 28 Januarie 2008, na wyle mnr. J.P. Spangenberg, die derde skoolhoof, vernoem. Op Stigtersdag, 28 Januarie 2010, is die hoofgebou na die eerste skoolhoof, wyle dr. J.F. O'Grady, vernoem.
Die saal in die Sport- en Kultuursentrum wat op 29 Augustus 2009 in gebruik geneem is, is na André Markgraaff, oud-leerling (1970 tot 1974) en een van die donateurs, vernoem.
Dit was 'n klein en nederige begin, maar omdat Hoërskool Diamantveld voortdurend getrou gebly het aan sy wortels, het dit baie gou tot een van die bekendste skole in ons land gegroei. Die talle oud-skoliere wat betekenisvolle bydraes in samelewings regoor die wêreld lewer, is lewende getuies van die skool se leuse: A POSSE AD ESSE. Van 'n Moontlikheid tot 'n Werklikheid.
Die geskiedenis het bewys dat moontlikhede werklikhede in die lewe van Diamantvelders word. Die gees en toewyding van personeel en leerders in die uitlewing van die skool se leuse, maak van DHS ‘n unieke skool.