GEHALTE AKADEMIESE ONDERRIG

Die handhawing van AKADEMIESE UITMUNTENDHEID vorm die wese en verleen BESTAANSREG aan die Hoërskool Diamantveld. Die verwesenliking van hierdie doelwit is die totale fokus van alle rolspelers.
Hoe bereik ons dié doelwit?

  • Ons belê slegs in GEHALTE ONDERWYSERS wat behoorlik gekwalifiseerd is vir die vakke wat hulle onderrig, en wat ook as eksaminatore, moderatore en nasieners by die Noord-Kaap Onderwys Departement optree.  Sedert 2005 het ons skool die toekenning vir die beste Wiskunde- en Wetenskap-onderwysers in die NKOD, asook 'n toekenning vir die topskool in Wiskunde en Natuur- en Skeikunde by die National Science and Technology Forum ontvang.

  • Ons verseker dat ons die BESTE UIT DIE OU BEDELING neem en dit kombineer met die nuwe vereistes om sodoende te verseker dat kinders toekomsgereed hier uitstap. Ons het ‘n gesoute onderwyskorps met jare se ondervinding.

Die skool se vakkeuses bied aan leerders die geleentheid om hulself goed te onderlê in ‘n verskeidenheid vakrigtings wat hulle op die beroepslewe na matriek sal voorberei.

DIE LEERAREAS VIR GRAAD 8 EN 9 SLUIT IN:  Afrikaans Huistaal, ‘n keuse tussen Engels Huistaal en Engels Eerste Addisionele Taal, Duits, Wiskunde, Natuurwetenskappe, Menslike en Sosiale Wetenskappe, Kuns en Kultuur, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Tegnologie en Lewensoriëntering.

DUITS: Die onderrig in Duits as Tweede Addisionele Taal is nog ‘n trotse tradisie by DHS.  Dit is tans slegs ‘n verkenningsvak in Graad 8 en 9 met die oog op Graad 10 en word nie by die bevordering van leerders in berekening gebring nie.  As gevolg van die gehalte van ons Duits-leerders en hulle prestasies in Duitse olimpiades, het die Duitse Pedagogiese Buitelandse Diens ‘n interaktiewe witbord met ‘n klankstelsel aan Diamantveld geskenk. 'n Onderwyseres wat deur die Duitse regering ondersteun word, is ook vir 2010 en 2011 vir onderrig by DHS beskikbaar gestel.

In Graad 10 tot 12 word die leerders se vakkeuses uit die volgende groepe saamgestel:

VAKKEUSES

VERPLIGTE VAKKE:

    • Afrikaans Huistaal
    • Engels Huistaal OF Engels Eerste Addisionele Taal
    • Wiskunde OF Wiskundige Geletterdheid
    • Lewensoriëntering ***

KEUSEVAKKE: (Keuse van EEN uit elke groep)

  • Fisiese Wetenskappe
    Besigheidstudies
    Geskiedenis
    Rekenaartoepassingstegnologie ***
  • Lewenswetenskappe
    Inligtingstegnologie
    Ekonomie
    Toerisme ***
  • Rekeningkunde
    Duits Tweede Addisionele Taal
    Geografie
    Verbruikerstudie

    **  Visuele kuns kan in enige groep gekies word, maar leerders word deur die kunssentrum gekeur.
  ***  Hierdie vakke word nie vir toelating tot graadstudie in aanmerking geneem nie.

ENGLISH HOME LANGUAGE

Ten spyte van ons Afrikaanse karakter, is ons trots op die uitmuntende standaard van ons Engels-onderrig en die topprestasies wat deur ons leerders verwerf word.  Ons het die afgelope ses jaar vier keer die topkandidaat in Engels Huistaal in die Noord-Kaapprovinsie in die Senior Sertifikaateksamen opgelewer: 2005; 2007, 2008 en 2010.

Ons gemiddeld vir Engels Huistaal oor die afgelope ses jaar in die Senior Sertifikaateksamen was 77,7%.  Die topkandidaat vir Engels Huistaal in 2008 studeer tans aan die Rhodes Universiteit.  Na die eerste semester-uitslae in 2009 het sy ‘n brief van gelukwensing asook ‘n uitnodiging om Engels as hoofvak te neem van die universiteit ontvang.

Die sukses van die genoemde word vergestalt in die akademiese prestasies wat Diamantveld konstant onder die TOPSKOLE in die land plaas.

AKADEMIESE PRESTASIES sluit in:

MATRIEKUITSLAE 2008, 2009 en 2010:
Tot 2008 was Hoërskool Diamantveld die enigste skool in die Noord-Kaapprovinsie wat ooit kandidate met 8 onderskeidings gehad het (7 van hulle) en die eerste 2 kandidate in die provinsie met 9 onderskeidings kom ook van Diamantveld. Hulle was Ruan van Zyl (2006) en Louis de Kock (2009). In 2009 het Diamantveld ook weer 3 kandidate met 8 onderskeidings elk gehad.

In 2010 kom die Top 3 provinsiale presteerders uit Diamantveld. Hulle is: Marike Kritzinger (1ste), Nadene Jacobs (2de) en Louis Fourie (3de). Louis Fourie word die eerste leerder in die provinsie wat 10 onderskeidings behaal.

Einde 2008 het ons skool 4 kandidate onder die Top 20 in die Noord-Kaapprovinsie gehad en 9 gemiddelde A’s en 26 gemiddelde B’s is behaal. Einde 2009 het Diamantveld 3 kandidate onder die Top 10 gehad en 13 kandidate het met gemiddelde A's geslaag. 'n Verdere 29 het gemiddelde B's verkry.

Einde 2010 was daar benewens Louis Fourie se 10 A's ook 'n leerder wat 9 A's en een wat 8 A's behaal het. Daar was drie leerders wat 7 A's behaal het en 'n verdere ag leerders het 4, 5 of 6 A's behaal.

DEELNAME AAN OLIMPIADES, EKSPO’S EN ANDER KOMPETISIES vorm ‘n belangrike instrument in die voorbereiding van ons leerders.  Hiervan is die Duitse Olimpiade, Mintek Minquiz, English Olympiad, Afrikaanse Olimpiade, SA Taalbond (wat die enigste erkende tweetaligheidseksamen vir leerders is), die Wêreldkennis Olimpiade en Wetenskap Olimpiades die belangrikste.  Verder word daar aktief aan AMESA (Wiskunde), asook aan Afrikaanse en Wetenskap Ekspo’s deelgeneem.  Ons spog dan ook jaarliks met verskeie prestasies onder die top nasionale, sowel as provinsiale ranglere.  In 2009 is een van ons leerders gekies om ‘n leierskapsprogram by Harvard Universiteit in die VSA by te woon.